Die Tweede Afrikaanse Beweging.

§ 1. Historiese Inleiding.

Meer as sestig jaar gelede het die eerste Afrikaanse geskrif verskyn,
die _Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar over het
onderwerp van Afscheiding tusschen de Oostelijke en Westelijke
Provincie_ (1861). Merkwaardig genoeg is dit ‘n _Engelsman_ gewees, wat
allereers tot die tans so vanselfsprekende gevolgtrekking gekom het, dat
Afrikaners Afrikaans praat en bygevolg dié taal ook sou kon lees en
beter verstaan as Hollands. Prof. J.J. Smith het onlangs ontdek, dat die
skrywer van die politieke vlugskrif die Cradockse magistraat L.H.
Meurant (1811-1892) was.[1]

Ongeveer tien jaar na die verskyning van die eerste Afrikaanse boek word
Ds. S.J. du Toit oortuig van die deugdelikheid van die volkstaal deur
die Hollandse onderwyser Arnoldus Pannevis. Wanneer laasgenoemde op 7
September 1872 in _De Zuid-Afrikaan_ ‘n artiekel skryf oor _De Bijbel in
het Afrikaansch_, dan begint die Eerste Beweging, wat op 14 Augustus
1875 vaste vorm kry deur die oprigting van _Die Genootskap van Regte
Afrikaners_.[2]

Die verdienstelike werk deur die Eerste Beweging, nie alleen op
taal- maar ook op nasionale gebied verrig, is deur verskillende skrywers
behandel.[3] Reeds vóór die anneksasie van die Transvaalse Republiek
(1877) het _Die Patriot_ al roering in die Kaapprovinsie veroorsaak;[4]
“en in die jare van lydelike verset wat daarop gevolg het, kom die
patriottiese ontboeseminge vinnig in verset teen die nasionale druk; ‘n
oorkropte gemoed stort hom dikwels uit in bittere versugtinge, of die
digter verdiep hom in blye bespieëlinge van ‘n mooier môreskemer,
eendag.”[5] Maar die groot stoot, wat gelei het tot ‘n nasionale
herlewing deur die hele land het eers gekom met die Vryheidsoorlog. Op
15 April 1881 verklaar _Die Patriot_: “Die Afrikaners, veral die jeug,
het nou ‘n afkeer gekrij teën vreemde tale en sede, veral teën Engels,
en daar is ‘n ambisie opgewek ver ons eie volk en ons eie taal…. Die
verwijt dat ons, Afrikaners, gen nasionaliteitsgevoel het nie, is oek
nou beskaam.”[6] Dit was die eerste kragtige ontwikkeling van die
volksbewussyn, waarvan in die stryd teen Willem Adriaan van der Stel al
duidelike kieme te sien is.[7]

Tot volle rypheid het die volksbewussyn egter in 1881 nie gekom nie.
Die Jameson-inval veroorsaak in 1895 weer ‘n sterk opflikkering van die
volksgees, maar in die tyd kwyn ook die Patriot-beweging dood, weens die
on-Afrikaanse politiek van die leier, Ds. S.J. du Toit. “Die genadeslag
aan die vooruitgang van ons taal is toegedien deur die politieke _volte
face_–en gevolgelike onpopulariteit–van die persoon, die aan die spits
gestaan het van die beweging wat, in die oë van die publiek,
onafskeidelik aan hom verbonde was.”[8] Heeltemal dood was die
Afrikaanse Beweging egter nie, en in die volgende periode het o.a. die
bloemlesing van Pres. F.W. Reitz, _Twee-en-Sestig Uitgesogte Gedigte_,
asook die talryke bundels van Melt Brink goeie dienste bewys. Seer juis
is die opmerking van Prof. J.J. Smith: “Dat Melt Brink in sy tyd ‘n
kultuurfaktor van betekenis was, val nie in die minste te betwyfel
nie…. In later jare het beoordelaars sy taal as onafrikaans en sy kuns
as onaanneemlik bestempel; maar die feit bly dat Melt Brink se
optree–al het hy dit self nie bedoel en self nie eens geweet nie–een
van die sterkste aanvalle op die vesting van die Hoog-hollandse
skryftaal van Suid-Afrika was: hy het immers die mense gewend gemaak aan
‘n taalvorm wat nie meer Nederlands was nie; en toe die afwykinge eers
begin het, moes die eindresultaat Afrikaans wees.” (_Die Huisgenoot_ Mei
1922.)

Geen gebeurtenis het soveel bygedra tot die eenheidswording van die
Afrikaanse volk nie as die oorlog van 1899-1902. “Die Transvaalse
Vryheidsoorlog van 1881 was maar ‘n begin, en die Jameson-inval van 1895
maar skrikmaak, vergeleke met die ontsettende jare tussen 1899 en
1902…. Die kloof tussen Kolonialer, Vrystater, Transvaler en Nataller
(was) toegespoel deur ‘n vloed van wee en ellende. Die hele Afrikanerdom
het gevoel, asof hulle verlate was deur die ganse beskaafde wêreld….
Waar hul vroeër, teenoor die naturelle, hul _stam_verwantskap gevoel
had, het hul nou, teenoor Engeland, leer besef, dat hul lede van een
_nasie_ is…. In smart en angs is ons nasie gebaar geword. Die swaard
het ons geboortemerk op ons voorhoofde geskrywe. Maar ook by ons het die
dood die lewe gevoed. Die puinhope van die twee Republieke het die
vrugbare bodem geword, waarin die nuwe Afrikaanse Nasie wortel, van die
Kaap tot in Kongoland, en van Duits-Suid-Wes tot Brits-Oos-Afrika!”[9]
“In die oorlogsjare…. is die vaderlandsliefde in lewendige ligte
uitgelaai. Op die oorlogsveld en in die vreemde kom besinning en inkeer
tot menige Afrikaner. En na Vereniging is dit oopgegaan, saggies-seer,
en beginne drup-drup, soos bloedtrane uit die geheue drup.”[10]

Met ons het dit gegaan soos Tennyson so mooi sê:

If a state submit

“At once, she may be blotted out at once
And swallowed in the Conqueror’s chronicle.
But in wars of freedom and defence
The glory and grief of battle won or lost
Solders a race together–yea–tho’ they fail,
The names of those who fought and fell are like
A banked up fire that flashes out again
From century to century, and at last
May lead them on to victory,–I hope so–
Like phantoms of the Gods.”

Na die oorlog word die stryd vir die erkenning van Afrikaans hervat deur
‘n jonger geslag en is die Twede Beweging al gou aan die gang, eers in
die Kaap en later in Transvaal en Vrystaat. Nog sestien jaar sou dit
egter duur, voordat die volkstaal deur staat, uniwersiteit en kerk erken
word.[11]

§ 2. Teëstelling tussen die Eerste en Twede Beweging.

Besonder skraal was die letterkundige oes van die Patriot-beweging. Maar
dat die Regte Afrikaners met taaie volharding en groot opoffering gestry
en so die pad vir ‘n jonger geslag skoongemaak ‘t sal iedereen erken.
Teen alle vooroordeel in het hulle die durf gehad om ‘n volk sy eie taal
te leer lees, en afgesien van hul prestasies op ander gebied, verdien
hulle al daarvoor alleen die dank van alle Afrikaners. Dat die hele
beweging feitlik doodgekwyn het deur die politieke omswaai van een
talentvolle leier is ‘n bewys van die lae trap van ontwikkeling waarop
die volk toe nog gestaan het. Selfs vandag nog belemmer verskil van
politieke insig ons vooruitgang op kulturele gebied, maar gelukkig het
die volk tans so ‘n beskawingspeil bereik, dat selfs vyf of meer
renegaatleiers die Twede Beweging nie sou doodkry nie.

Primitiewe letterkundige begrippe en die gemis aan leidende
persoonlikhede was naas die reeds genoemde oorsake aanspreeklik vir die
gedeeltelike mislukking van die Patriot-beweging. Wanneer daarby die
maatskaplike toestande in aanmerking geneem word, dan blyk dadelik, dat
‘n opluiking van nasionale kuns in die laaste kwart van die neëntiende
eeu allermins te verwagte was. Aan die Kaap het wel betreklike rus
geheers, maar daar het ook ‘n deur-en-deur verengelste onderwyssisteem
alle vooruitgang op kulturele gebied ondermyn. In die republieke het die
Trekkers ‘n stryd op lewe en dood gevoer teen die inboorlinge en die
insluk-politiek van ‘n magtige wêreldryk, terwyl hul intussen nog die
land bewoonbaar gemaak het. By al die faktore kom nog die ontdekking van
die goudvelde, met die daarop volgende instroming van uitheemse
elemente, wat ‘n landelike bevolking voor geweldige ekonomiese en
kulturele vraagstukke gestel het. “Wij zien in de jaren 1884 en 1900 in
Zuid-Afrika een reeks van gebeurtenissen voorvallen, zóó buitensporig
van karakter, dat men in de nieuwere geschiedenis te nauwernood de
wedergade zal vinden.”[12] In so ‘n woelige tydperk kon die kuns nie
opbloei nie. Daar was geen tyd vir rustige besinning nie en die vinnige
loop van die gebeurtenisse het alle geleidelike ontwikkeling onmoontlik
gemaak. Voeg ons daarby nog die stryd op taalgebied en die gebrekkige
eenheidsbesef, dan hoef dit niemand te verbaas nie, dat die
kunsontwikkeling gering was, en die Patriotters alleen voortrekkerswerk
kon verrig.

Wanneer dan na die oorlog van 1899-1902 die vaste wil van die volk
kenbaar word om die stryd vir nasionale selfstandigheid met geestelike
wapens voort te set, dan ontbreek die leiers ook nie en word die
geskiedenis van die Twede Beweging gekenmerk deur ‘n gestadige
vooruitgang, wat sedert die laaste jare met verrassend snelle tempo
toeneem. Die “nou-rym-ons-lekker”-periode[13], waarin iedereen, van
Generaal Joubert af tot die skaapwagtertjie in die veld versies inmekaar
gedraai het, was verby en al dadelik word op die ernstige strewe van die
Twede Beweging nadruk gelê. In 1906 sê Preller al: “Afrikaans het tot
hiertoe groteliks gedien als ‘n soort van trog, om al die o’erloop
vulgariteit van die nasie op te vang”;[14] en Jan Celliers verklaar in
sy brosjure, _Doel van Ons Tydskrif_: “As ons let op wat in hoofsaak tot
nog toe gelewer is in die Afrikaanse taal … dan kan dit ons nie
verwonder nie as baie mense dink: die Afrikaanse taal is nou net geskik
om mekaar grappies te vertel en mekaar lekker te laat lag. Alhoewel
erken moet word dat sommige van die grappies en grappige versies goeie
werk is, is dit ons tog duidelik dat van die Afrikaanse taal meer ge-eis
word…. Omdat toevallig die vrolike kant van ons geaardheid sig die
sterkste geopenbaar het in ons letterkunde, moet dit die vat-plek wees
vir ons om die Afrikaner te vang, moet dit die aanknopingspunt wees _om
hom in te lei tot hoëre dinge_.”[15]

§ 3. Die Twede Beweging veel meer dan Taalbeweging.

In die eerste jare neem die taalkwessie alle aandag in beslag, maar al
gou blyk dat die Twede Beweging, nog veel meer as die van _Die Patriot_
nie uitsluitend ‘n _taal_beweging is nie. Generaal Hertzog begroet _Die
Brandwag_ as volg in die eerste nommer: “Het Afrikaanse volk ontwaakt
tot het gevoel van mannelik eigen kracht, eigen waarde en zelfrespekt,
verlangt zichzelf te zijn…. Te lang reeds is ‘t volk begocheld
geworden door de luister van vreemde reklame en bedrogen geworden door
‘t hooghartige ener aangematigde uitheemse meerderheid. Evenals op
industrieel en maatschappelik gebied, zo ook op intellektueel gebied
willen wij onszelven zijn. Wij willen zijn zoals _wij_ zijn en niet
zoals _anderen_ zijn….” En al gaandeweg groei die besef, dat die
grondslag van alle beskawing is die ontwikkeling van die hele volk
volgens die noodwendigheid van sy eie siel en sy eie geaardheid. “Ons
praat vandag van ‘n Afrikaanse volk en ons werk vir ‘n Afrikaanse
toekoms. Ons min ons eie land, en ons stry vir die erkenning van ons eie
taal. Ons begin waarde te heg aan die erfenis wat die vadere aan ons
nagelaat het en ons raak gesteld op dié sake wat ons as ‘n volk van
ander volke onderskei…. Die skokkende gebeurtenisse van die laaste
twintig jare het baie Afrikaners wakker geskud. Hul het begin besef dat
hul lede is van ‘n Afrikaanse volk–‘n volk met eie tradiesies en sedes
en gewoontes, ‘n eie taal en ‘n eie roeping onder die volke van die
aarde.”[16]

Die bedrywigheid van die laaste jare is van veelsydige geaardheid. Daar
word nie uitsluitend gestreef na politieke mag nie, maar ook pogings
aangewend om op ekonomies gebied onafhanklik te word. ‘n Teken van die
kulturele manbaarwording van die volk is dit ook, dat met liefdevolle
ywer gewerk word om die geestelike erfgoedere van die voorvaders teen
verwaarlosing en verbastering te beskerm. Op kultuurgebied is die leuse
orals: “oneigene, ik late u, … gaat reizen!” Die laaste boodskap van
President Kruger, waarin hy die volk aanspoor om uit die verlede te neem
wat goed is en daarop voort te bou vir die toekoms het in goeie aarde
geval. ‘n Eensydige betragting van die mooi leuse lewer egter groot
gevaar op. Die strewe na ‘n eg-Afrikaanse kultuur mag nie lei tot ‘n
skrikkerige afwering van alle vreemde invloede nie. Geskiedenis beteken
juis verandering, en as ons vandag probeer om ‘n beskawing te ontwikkel
uitsluitend uit wat ons as goed Afrikaans in die verlede voorkom, dan
moet dit op mislukking uitloop. Hoe hoog ons ook al die tradiesies van
die voorgeslag skat, ons moet nie vergeet nie, dat ons tans voor ander
probleme as ons voorvaders staan. Jan Celliers het in 1913 al gewys op
die onmoontlikheid van isolasie: “Die dag sal nog kom dat Suid-Afrika
net soos enige beskaafde land gelyk-op sal deelneem aan die wêreld se
beweginge en worstelinge op geestelik gebied, aan die wêreld se
vergaderde kennis. Die idee, wat sommige mense nog koester, om van S.A.
‘n soort alleenstaande Israel te maak–bang en wars van uitlandse
inmenging en invloede–is ‘n droombeeld wat met die dag reeds vaer
word.”[17]

§ 4. Gevaar vir Isolasie.

Ook onder ons kunstenaars is daar wat met bangerige angsvalligheid alle
buitelandse invloede van ons wil weer, wat hul krag soek in ‘n benoude,
stikagtige isolement. Hul hoop om op dié wyse ‘n suiwer Afrikaanse kuns
te kan opbou, vry van alle basterdelemente. Ons moet maar aansukkel op
ons eie doringpaadjie, omdat ons toestande so glad anders is as in die
ouere kultuur-lande. Dat hierdie rigting totaal verkeerd is, word al
dadelik bewys deur die feit, dat ons beste kunstenaars juis onder die
inwerking van buitelandse invloede hul skoonste werk geskep het. Die
egte kunstenaar laat hom nie verbaster deur ‘n vreemde kultuur nie. Hy
ontleen daaraan wat vir die volle ontplooiing van sy gees diensbaar is,
en vervorm en verwerk die vreemde bestanddele dan tot ‘n suiwer
nasionale kunswerk. ‘n Volk wat nie sy man kan staan teenoor vreemde
invloede nie, gaan te gronde en so ook die kunstenaar. Maar met reg kan
ons van hom eis, dat hy ons blik sal verruim en ons in intieme aanraking
bring met die kuns ook van ander lande. Isolering op letterkundige
gebied sou beteken opdroging, sou aanleiding gee tot ‘n eindelose
herkouery. Laat ons kunstenaars dus gerus van alle oorde hul gees
verryk. As hul mans genoeg is, sal hul selfstandigheid niks daaronder ly
nie en ons kuns sy nasionale stempel behou. In elk geval geen Chinese
muur rondom Suid-Afrika nie!

§ 5. Kultuur-toestande.

Dit sou seker te optimisties wees om te beweer, dat daar by ons al ‘n
waaragtige diep-wortelende kultuur is. Maar so ‘n kultuur is in elk
geval in wording en die kieme van ‘n Afrikaanse skilder-, bou-, toon- en
beeldhoukuns maak al ons harte bly. Wie dan nog let op die wondere
ontluiking van ons letterkunde binne ‘n tiental jare weet, dat daar
inwendige kragte aan roere is, wat tot die skepping van nog grootser
skoonheid sal lei. Ook by ons wag die jeug “het hoofd vol duistere
glories en de handen bevend van voorgevoel.”[18]

“Het zijn eerst de dichters, die een volk ontdooien. Het zijn de
dichters, waar zij muziek gaande maken en gezongen worden; of waar zij,
vanaf het tooneel, de groote gevoelens ontboeien; het zijn de dichters,
die een volk, aan zichzelf ontdekt, één maken.”[19] So het ook ons
digters die dinge, wat daar roer en woel in die hart van die nasie,
vertolk en die solidariteitsgevoel versterk, terwyl die prosaïste ons
gevoel van nasionale eiewaarde verhoog het deur die skildering van
grootse dade uit die wordingstydperk van die volk.

Moeilik is dit om die kulturele lewenshouding te bepaal van ‘n volk, wat
nog altyd moet stry vir die verowering en behoud van ‘n nasionale
kultuur. Vas staat egter, dat geskiedkundige en ekonomiese faktore ‘n
egalige en natuurlike ontwikkeling onmoontlik gemaak het. ‘n Groot
gedeelte van die volk–miskien kan die werklike toestand benader word
deur te sê die helfte–leef nog voort in byna volslae onkunde van die
kultuuropenbaring, wat orals om hul opbloei. By so ‘n besondere
gebeurtenis as ‘n Dingaansviering b.v. merk hul wel dat daar ‘n roering
is, maar die dieper betekenis van die kultuurbeweging bly onbegrepe,
omdat hul deur ‘n agterlike ontwikkeling die orgaan daarvoor mis.

‘n Dikwels oordrewe belangstelling in die efemere politieke kibbelarye
is die toppunt van hul geestelike inspanning. So ‘n groot persentage
agterlikes het natuurlik ‘n ingrypende invloed op die letterkunde.
Daaraan moet toegeskryf word die sterk didaktiese en moraliserende
elemente in ons kuns.

Op die platteland doen die talryke debatsvereniginge veel om meer as
een versufte siel, vir wie die lewe nouliks meer dan ‘n plantebestaan
van dowwe verveling is, op te beur en langsamerhand enige aandeel te
laat kry in die intellektuele beweging. Maar hoeveel kosbare energie
word nie verspil op debatte van die: “Wat is sterker: vuur of
water”-tiepe nie? As ‘n mens so maand na maand die notule van baie
vereniginge, (gelukkig nie almal nie) deurlees, dan kan jy jou verbaas
oor die deurtrapte advokate-listigheid, wat aan een of ander
beuselagtige onderwerp bestee word, en die geesdriftige koppigheid
waarmee die kwessie eindelik uitgebaklei word. Triomfantelik word dan
die uitslag aan die pers meegedeel, asof dit ‘n belangrike probleem is,
wat nou vergoed opgelos is! Op baie plekke is daar gelukkig mense wat
leiding kan gee, en daar bereik die vereniging of lees- en studie-sirkel
dan ook sy doel, maar dit is ‘n feit dat meer as een persoon, met behulp
van ‘n bietjie gladheid van tong ‘n posiesie inneem, waartoe sy
geestelike ontwikkeling hom geen reg gee nie. Op die manier kry ons
kunsdespote in onderbaadjie-sakformaat, wat, ondanks hul goeie
bedoelinge, remmend werk op die ontwikkeling van ‘n algemene kunsbegrip
en die opbruisende energie van die jong mense op niksbeduidende sakies
laat verflenter.

Aan die spits van die intellektuele gedeelte van die volk staan die
wetenskaplik gevormde leiers, ten volle toegerus met al die geestelike
goedere van die buiteland. En òm hulle, die steeds groter wordende
skare, wat deur ‘n verbeterde onderwysstelsel in staat is om aktief deel
te neem aan wetenskap en kuns. Veral in die laaste jare het dit duidelik
geblyk, dat skoonheid vir ons nie meer ‘n weelde-artiekeltjie, ‘n goue
rand aan die bord waaruit ons die daelikse brood eet, is nie. Kuns het
vir ons geword ‘n noodsaaklikheid, en gelukkig is ons kuns van so ‘n
geaardheid, dat dit nie op die bergtoppe van ongenaakbare afsondering
alleen enkele begenadigdes ontroer nie, maar verstaan en gewaardeer word
deur ‘n groot gedeelte van ‘n volk, wat jare lank al soek na skoonheid
in eie taal, skoonheidsuitinge van eie kultuur.

As dit waar is dat die materiële posiesie van die kunstenaar ‘n
simptoom is vir die kulturele peil van ‘n volk, dan kan ons op een
inspirerende voorbeeld wys. Jan Celliers is uit die geesdodende sleur
van ‘n regeringskantoor verlos deur ‘n spontane uitbarsting van algemene
waardering. Dit is ‘n erkenning van die waarde en onmisbaarheid van
kuns, wat moed gee vir die toekoms, ‘n bewys dat die gemeenskap belang
stel in ideële goedere. Die suksesvolle reise van Lauwerijs en
Hullebroeck is ook aanduidings in dieselfde rigting.[20] Naas al die
tekens van groei, deur Dr. E.C. Pienaar in sy dissertasie opgesom[21]
kan nog gewys word op die oprigting van die _Tydskrif vir Wetenskap en
Kuns_ in Bloemfontein (1922).

Eensydig sou egter bostaande oorsig van ons kultuurtoestand wees, as
daar nie op gewys word nie, dat selfs by die ontwikkelde lae van die
volk nog tallose spore van gebrekkige kunssin aanwesig is. So verklaar
Dr. H.J. Steyn: “Ons volk is wel prakties en berustend van aard, maar te
min idealisties. Sy eie geestesstryd en die van stamverwante laat hom
meesal koud. Die laat hy oor aan ‘n paar in sy oog eksentrieke
idealiste…. Daar is nie ‘n innerlike drang wat hom aangryp om naar ‘n
verafgelege horison te kyk nie; daar is by ons nog ‘n gebrek aan liefde
vir die abstrakte en bespiegelende, ons is nie genege om te werk vir
resultate wat alleen deur ons nageslag gepluk sal word nie.”[22] Die
skilderskrywer Reenen J. van Reenen beweer: “In Suid-Afrika bly, by die
meeste van ons, die bontgekleurde wand-kalenders wat die naaste
smouswinkel aan ons stuur, nog die maatstaf wat ons gebruik by die
beoordeling van skilderye.”[23]

Wanneer Jan Celliers ons vertel: “Sommige korrespondente het my soveel
per les aangebied, as ek hulle wil leer hoe om digters te word”, (_Die
Huisgenoot_, Aug. 1921) dan twyfel ‘n mens aan die gehalte van die
geesdrif vir letterkunde. In die Kersmisnommer van _Ons Land_, 1919,
beveel Ds. J.P. van Heerden vir ‘n ekstra prys aan ‘n verhaal, getietel:
_De Dronkenschap van Dokter Dirkse_, waarin alle woorde met die letter
_d_ begin. Dat dit tot ‘n aaneenskakeling van onsin aanleiding gee, blyk
uit die volgende: “De drank doet duizenden dwaasheden. Daarom drinkers,
die de drankduivel dienen, denk diep daaraan. Doorziet daardoor de
dwaasheid der dronkenschap, de droevige doodslag der drankzuchtigen.
Doodt dus dadelik, doch degelik de drankduivel. Doet dus de drankduivel
deerlik delgen….” Sedelike oorwegings het sy eerwaarde hier inderdaad
‘n “droevige doodslag” op die kuns laat pleeg! Dat so ‘n
rederykers-aardigheidjie nog in 1919 kan bekroon word, is ‘n aanduiding
dat ons kunswaardering soms nog uiters gebrekkig is. Ook die opvoering
van so ‘n kykspel as die _Medea_ van Jan Vos op Pretoria[24] deur die
“Afrikaans-Hollandse Toneelvereniging” is ‘n bedenklike teken.

Oor die gehalte van ons leesstof het Jan Celliers ‘n opmerking gemaak,
wat seker tans ook nog waar is: “In ons stede … behoor baie van die
mense wat so los in hul skoene staan–en wat hulself tog vir erg beskaaf
hou–tot die wat weinig meer lees, of kan lees dan sulke goed soos
_Tit-bits_ en die _Strand Magazine_.”[25] En veel uit die volgende, wat
in 1911 geskryf is, bly vandag ook nog waar: “As ons let op wat tot nog
toe (hoofsaaklik) in ons land geskryf is, as ons sien wat vernaamlik …
gelees word, dan moet ons sê, dat die awontuurlike en romantiese–die
soort soos Captain Kettle en Sherlock Holmes, die soort wat sig besig
hou met die growwe feite van die lewe–nog altyd die meeste in die smaak
val…. In ‘n jong land is dit amper nie anders te verwag nie–ons hele
bestaan is hier prakties, geestelik oppervlakkig, woelerig en alledaags.
Vraagstukke en gevoelens en gedagtes waar die groot wêreld daarbuite al
moeg van is, daar het ons nog nie eers aan geroer nie.”[26]

Dr. G. Cillié gaat selfs so ver om te beweer, dat ons al ons kultuur
“oorgeneem (het) van ons ingevoerde medeburgers. Dis nie ons eie nie,
dis geleen. Ons sogenaamde nuwe kultuurvorme is ‘n suiwere na-apery …
As ons so vuurwarm word oor ons eie tradiesies en gewoontes en sedes,
dan praat ons so ongemerk … ‘n hele boel nonsens.” Tog erken hy: “Op
die gebied van ons geskiedenis, van ons boerdery, ons nywerheid en veral
ons taal en letterkunde het ons verbasend vooruitgegaan. Op taalgebied
het ons waarskynlik in die afgelope twintig jaar ‘n groter
ontwikkelingsproses deurgegaan as die Engelse taal in vyf eeue, van die
tyd van Chaucer tot vandag toe. Dit alles getuig van ‘n vitaliteit, ‘n
groeikrag, ‘n energie, ‘n lewe, wat ons met verbasing en blydskap
vervul.”[27]

Optimisties is Dr. D.F. Malan: “Ik geloof … dat het Afrikaanse volk op
het gebied van de kunst een schone toekomst tegemoet gaat. Voor die
verwachting meen ik goede gronden te hebben. Ik bedoel niet alleen het
feit gedurende de lange wachtensmoede uren in de kampen ontdekt, dat ons
volk even kunstig kan zijn met het mes als dapper met de Mauser…. Ik
bedoel ook het feit dat de kunst ons volk ongetwijfeld aangeboren is….
Ons volk is samengesteld hoofdzakelik uit drie elementen–het Hollandse,
het Franse en het Duitse. ‘t Zijn juist die volken van Midden-Europa,
die uitblinken in kunstgevoel en kunstprodukten, de natuurlike
erfgenamen van de beschaving en de kunstzin van de oude Grieken en
Romeinen.”[28]

Van belang is ook die volgende: “Hier in S.A. kan ons nog nie praat van
‘n spesifiek Afrikaanse toonkuns nie, hoewel ook hier die eerste
druppels na ‘n langdurige droogte begint te val…. Ons vernaamste
musiek-eksamens word afgeneem deur ‘n Engelse liggaam, wat elke jaar sy
eksaminatore uit Groot-Brittanje naar S.A. stuur. Dit bewys hoe
primitief die opvatting van ons outoriteite van die doel van die
toonkuns is, dat hulle sulke verouderde toestande laat voortduur…. Ons
volk is kultureel nog nie ontwikkel nie, en geldelik nie sterk genoeg om
hom ontberings te getroos of groot somme uit te gee vir goeie
skilderstukke nie.”[29]

By die beoordeling van die letterkundige waardering kan ook gewys word
op die soms hoogs eienaardige keuse van werke uit die Nederlandse
letterkunde, wat vir publieke eksamens voorgeskryf is. Dikwels het dit
geblyk, dat daar ‘n besondere voorkeur was vir minderwaardige skrywers
soos Justus van Maurik en ander, wat in Holland, òf totaal onbekend, of
nog alleen deur die onderste lae van die samelewing gelees word. Tereg
het dan ook die Akademie daarteen protes aangeteken[30] en in die laaste
jare kom ook hierin verbetering.

§6. Kalvinisme en Kuns.

‘n Belangrike faktor in ons kultuurlewe is die feit, dat die Afrikaner
volk Kalvinisties is. “Als wij de ziel van dit volk wensen te bepalen
zonder zijn religie ‘n prominente plaats in te ruimen, zou het zijn ‘n
opvoeren van _Hamlet_ zonder de prins erbij”, verklaar Ds. N.J.
Brümmer.[31] “Geheel ons Afrikaans-Protestantse religie is gebaseerd op
‘n zeker Godsbegrip zoals in de (Dordse) Canones omschreven.” Die
“teugelloze willekeur” van die Afrikaanse natuur was “‘n school voor de
beoefening van de deugd der onderworpenheid, … was genoeg om de
Afrikaner tot ernst, ja tot somberheid te stemmen, en voorwaar de
weemoedsschaduw der oude Germanen valt nog bij de besten onder ons volk
op te merken.” Daar mag wel ‘n kern van waarheid in die laaste opmerking
wees, maar laat ons veral die somber stemming nie oordryf nie. “Om den
wat stroef gesloten mond van den Calvinist heeft Cats vaak een gezonden
lach doen spelen”, sê Dr. Kuyper.[32] Dit was by ons nie nodig nie, want
‘n guitige humor is juis een van die kenmerke van die Afrikaner volk. En
in die “meedogenloze” natuur van Suid-Afrika is die stralende son tog
steeds ‘n simbool van blyheid gewees, wat ons uit die bedompige huise
gelok ‘t na jag- en veldvermaak.

Prof. J.J. Smith het daarop gewys, dat sekere kunsuitings al agterdog
veroorsaak het. “Ons volk is by uitstek Kalvinisties en die geroep om
die kuns ter wille van die kuns self te bewonder, wat die kunstenaar ook
al mag voorstel, het heelwat argwaan teen die kuns verwek. Om ‘n
agterveldse patriarg ‘n skilderstuk voor te hou of ‘n beeldhouwerk te
toon wat ‘n voorstelling gee van Voortrekkersdogters wat in die
Oranje-rivier baai, sal by hom nie juis liefde vir die kuns wek nie,
want as afstammeling van die Hugenoot en Geus het hy alreeds met die
idee vertroud geraak, dat die beeldhoukuns ‘n werktuig in die diens van
die afgodedienaar is en die skilderkuns ‘n instrument om Roomse
kerkvensters mee te versier.”[33]

Op die Bloemfonteinse Taalkongres is daar in 1909 ‘n skermutseling
gewees oor die vraag of die Akademie die opvoering van toneelstukke moes
bevorder.[34] “Dit voorstel werd echter hevig bevochten” in ‘n
voorlopige komiteevergadering al, en hoofsaaklik deur kerklike teenstand
verwerp. Merkwaardig is egter, dat daar tog ook predikante ten gunste
van die voorstel was. In _Die Banier_ (Des. 1921) bepleit Dr. H.J. Steyn
die oprigting van beroepsgeselskappe op goeie gronde. “Die tyd is verby
om die toneel te bestry op grond dat dit teen ons sedes is. Die Engelse
toneel is nie alleen ‘n gevaar vir ons sedes nie, maar ook vir ons
nasionale gevoelslewe.”[35] In die taalstryd het die liefhebbery-toneel
uitstekende dienste bewys en ook tans nog is daar geselskappe, wat groot
gedeeltes van die land afreis. Jan Celliers sê in 1910 al: “Dis op ander
plekke ook duidelik gebleke dat die toneel ‘n magtige middel kan wees
tot sedelike opvoeding, deur aan die mens ‘n spieël voor te hou van sy
drifte, hartstogte en ydelhede. En die toneel boesem eerbied en liefde
in vir die landstaal. In ons land, veral, waar so min gelees word, kan
die toneel ‘n groot rol speel …”[36]

Hoe die Kalvinistiese gees reageer op die moderne Nederlandse
letterkunde blyk o.a. uit die jaarboeke van die Akademie. In ‘n voordrag
_De Dichter als Ziener_ sê Dr. J.D. du Toit (Totius): “Bij overvloedige
tol van eerbied, die gij zeker met mij aan de nieuwe Hollandse dichters
betaalt, moet toch bejammerd worden het waarlik arm-zijn van hun verzen
aan dat ideëel-zienlike, dat logies-objektieve. Hun subjektievisme doet
hen omdwalen in een ijle, onlogiese, zinledige wereld.” (II p. 57). Ter
stawing van sy oordeel voer hy aan Belpaire, _Kunst- en Levensbeelden_.
Van _l’art pour l’art_ wil Totius nie hoor nie. Met instemming haal hy
Prof. Woltjer aan: “Het begin en einde van alle poëzie is de ere Gods in
het woord Hem toegebracht uit en door zijn schepsel”.

In 1912 spreek Dr. I.J. Marais ([oorlede] 1919) sy professorale
banvloek uit oor “De Nieuwere Richting in de Nederlandse
Letterkunde”,[37] waarmee hy hoofsaaklik die Tagtigers bedoel. “Zij
verheerliken de kunst; zij zijn artiesten, die woordkoppelingen dulden,
vaak door geen mens verstaan …” Beets, Da Costa, Van Lennep,
Bosboom-Toussaint, Bilderdijk, Van Koetsveld en De Genestet–die noem hy
almal “sterren van de eerste rang”! “Met hun heengaan nam de
middelmatigheid bezit van het terrein”! Dat Van Deyssel dit waag om
manne soos Vosmaer en Jan ten Brink die les te lees word genoem
“verwaandheid, die alle perken te buiten gaat”. En dan volg die
uitspraak: “De _Opstellen_ van Van Deyssel, de _Letterkunde_ van Kloos,
de _Studies_ van Van Eeden zijn geen letterkunde die veredelt.” Veral
die wêreldbeskouing van die Tagtigers prikkel tot teëspraak. “Het
_èsthetiese_ neemt de plaats in van het _etiese_. Het schone wordt
verheerlikt tegenover het goede en het ware, en het heilige.” Steunende
op Taco de Beer en Ds. Hulsman word die wêreldbeskouing dan veroordeel.
Johan de Meester en Vermeylen val onder die skrywers “van mindere rang”
en alleen enkele sonnette van Perk vind genade. En eindelik kom die
volgende sug van verligting: “Goddank dat onze Zuid-Afrikaanse
schrijvers ons een andere weg hebben aangewezen … Couperus, Van Eeden,
Van Deyssel en anderen kiezen wij niet tot model in Z.A. Daartegen
waarschuwen wij …” Prof. A. Moorrees breek ‘n lansie vir Bilderdijk in
sy dankwoord en prys die kritiek van Beets teenoor die “van sommige
latere kritici, wier kritiek grotendeels schijnt te bestaan uit
geïdealiseerde viswijventaal.”[38] Ook Ds. J.D. Kestell verklaar dat
“ondanks de moderne neiging om de schrijvers van 1880 te volgen, men
zich hier bij ons nog steeds vastklemde aan ‘n oudere generatie, en
inzonderheid aan Beets.”[39]

As “men” beteken die ou garde, dan is die bewering in hoofsaak juis.
Onder die jongere is daar seker niemand, wat die sonderlinge kritiek van
Prof. Marais sal aanneem nie. Ons het in die woorde van Prof. Moorrees
geleer om “het goede uit alle tijden en alle richtingen … te
waarderen”[40] en weier om ‘n metode te volg, wat die meeste egte
kunswerke op die Kalvinistiese indeks sou plaas, ‘n metode, wat tot
sulke ongerymdhede lei as om Van Koetsveld en Van Lennep o.a. onder “de
sterren van de eerste rang” te reken! Prinsipiële voorligting by die
moderne literatuur is ongetwyfeld ‘n dringende eis, veral in ‘n
Kalvinistiese gemeenskap, maar dit moet iets anders wees as ‘n
veroordeling met een breë armswaai. Daar is ook in Suid-Afrika nog mense
wat glo dat kristelike beginsels teenoor _egte_ kuns nooit vyandig hoef
te staan nie. Raak Jan Celliers in sy takvolle lesing oor _Kuns en
Sedelikheid_ nie die wortel van die kwaad nie, waar hy sê: “Ons
opvoeding in alles wat skoonheid en kuns aangaat, is te seer
verwaarloos…. Word daar nie te veel “angsvallig bedek (ge) hou (nie),
wat deur eerlike, openlike behandeling die aantreklikheid van verbode
vrug en geheim sou verloor en gevaar sou voorkom”? (_Die Huisgenoot_
Jan. 1922.) Aangesien daar nou al tekens is, dat die voetpaadjie van ons
Afrikaanse kuns uitdraai na die internasionale grootpad, word dit ‘n
aktuële kwessie.

Prof. J. Kamp het die verskil in geestesgesteldheid tussen Europa en
S.A. goed geformuleer: “Van de problemen die daarginds de moderne ziel
bewonen, schokken en folteren, horen wij hier nog maar ‘t verre gerucht.
Voor ‘t grootste deel wandelen wij nog maar op de _traditionele_ paden
… En op emotioneel gebied, op ‘t terrein van de kunst? Wij zijn
vermoedelik nog ver van Oud-Europa z’n tegenwoordige koers op dit
gebied…. We zijn nog eenvoudig, nog natuurlik, ja zelfs nog tamelik
naïef. En aan onze _kunst_ komt dat ten goede. Maar de vraag is of diep
onder de oppervlakte van Jong-Zuidafrika z’n geestelik leven niet reeds
kiemen zijn aan te wijzen, van dat modern-europese. ‘t Kontakt tussen
hier en daar wordt al veelvuldiger en al intenser … Ik meen, dat
grondige kennis van, en diep inzicht in de getijen van hedendaags
Europa, niet te vroeg onder ons bevorderd kunnen worden. Opdat wij
_weten_, en _gewaarschuwd zijn_, en niet overrompeld worden.”[41]

Van groot belang vir die letterkunde sal die Afrikaanse Bybelvertaling
wees. As die vertalers daarin slaag om deur verhewe eenvoud ‘n waardige
vertolking van die gewyde teks te lewer, sal dit veel bydraag om
vastigheid te gee op stylgebied.

§ 7. Die Prosa.–Algemene Karakteristiek.

In die letterkundige voortbrengsele van die periode wat ons die
Afrikaanse Renaissance kan noem, sit daar ongetwyfeld sterk militante
elemente–en geen wonder ook, want die letterkunde van alle volke is ‘n
weerspieëling van die geestelike strominge wat die volksiel diep geroer
het. Vir tientalle van jare voer ons al ‘n taalstryd–‘n stryd wat
feitlik elke indiwidu dwing om grondig na te dink oor allerhande
taalkwessies, waaroor hy hom onder normale omstandighede nooit sou
bekommer nie. En die taalstryd is terselfdertyd ‘n stryd vir ons
volksbestaan, vir ons volkseenheid. “Ons jong Afrikaanse taal _moet_ win
en _sal_ win”, is die vlammende passiekreet van die herlewende volk; en,
eweas die manne van die Pleïade in Frankryk, verdedig ons kunstenaars
met heilige ywer die moedertaal, deur die opheffing waarvan ‘n lang
periode van geestelike knegskap beëindig word; vol van die besielende
weelde van ‘n pasgewonne vryheid, slinger hul manifeste teen die
wikkende, weënde twyfelaars wat nog lus het om ‘n vreemde taal aan ons
op te dring, maar wat nou vasgekeer is tussen die langsaam maar seker
sluitende sirkel, waarin die asgaai van die jeugdige stryders blink in
die skittering van ‘n nuwe son.

Juis die roes van ‘n toekomstige maar sekere oorwinning is dit wat ‘n
rustige objektiewe beskouing van ons literêre kuns so erg moeilik maak.
Baie boeke wat in die taalstryd kragtige wapens was, sal later nog
alleen van kultuurhistoriese belang wees. Ons loop groot gevaar om in
die hitte van die stryd ‘n literatuur voort te bring wat die karakter
van fabriekwerk draag. Die tot vervelens toe herhaalde geroep van die
teenstanders: “Afrikaans het g’n letterkunde nie!” het prikkelend gewerk
en ‘n atmosfeer geskep, waarin wel ‘n kragtige strydliteratuur kan
ontstaan, maar slegs by uitsondering ‘n uiting van stralende skoonheid
wat deur alle tye heen sal geniet en gewaardeer word. Die uitdagende
houding van die voorstanders van Hollands, wat hul steeds beroep het op
‘n eeue-oue letterkunde, het ons opgehits tot dade van durf. In jeugdige
oormoed het ons aan skrywe gegaan–nie altyd omdat hier binne ons ‘n
magtige worsteling van ideë was wat tot vertolking gedwing ‘t nie, maar
ook om te bewys dat ons taal sy man kan staan. In die laaste paar jaar
het daar ‘n oorweldigende aantal boeke in Afrikaans verskyn; en omdat in
die taalstryd juis dié wapens so uiters belangrik was, kon die kritiek
dikwels nie onvoorwaardelik veroordeel nie. Maar nou begint die tyd
verby te gaan waarin ons ‘n boek gaan aanbeveel eenvoudig omdat dit in
Afrikaans geskryf is. Vir ons jong skrywers is daar nou geen aanleiding
meer nie vir dié oorhaasting waardeur in die verlede veel middelmatigs
op die pers gekom ‘t.

Egte kuns kan nie ontstaan nie omdat dit geëis word as bewys vir die
manbaarheid van ‘n jong taal–net so min as wat die goue erepennings van
die talryke Nederlandse diggenootskappe van die 18de eeu egte poësie
uitgelok het. Egte kuns moet spontaan voortkom uit ‘n innerlike
onweerstaanbare drang, waaraan die geroepe kunstenaar, die “begenadigde
eenling” eenvoudig _moet_ gehoorsaam. Nasionale eersug het nog nooit ‘n
letterkunde van blywende waarde gefabriseer nie, eenvoudig omdat dit
iets is wat nie gefabriseer kan word nie. Gun die kunstenaar die tyd om
met rustige toegewydheid sy taal te troetel en te streel totdat hy
daarin die fynste roersele van sy siel kan uit, die teerste opwellings
kan verklank.

Laat die koorsagtige strydstemming van die laaste tyd ons hoofde nie op
hol bring nie. Die fiere, lewenskragtige eienskappe van ons volk is die
waarborg vir die langsame, gestadige opbloei van ‘n gesonde nasionale
letterkunde. So was dit in alle lande, en so sal dit ook by ons wees.
Maar nie in één nag sal daar ‘n katedraal uit die velde opdoem nie, soos
Albert Verwey êrens sê. Die waardelose ou timmerasie het ons omgesmyt,
die wanordelike periode van die afbrekery het ons deurgemaak, maar die
tyd is nou ryp om ernstig en rustig te bou aan die nuwe lewende kuns. Ná
die omwenteling _moet_ en sal daar iets groots kom–maar as vanself.

Naas die militante element is daar, soos reeds by die beskouing van die
kultuurtoestande opgemerk, ‘n sterk didakties-moraliserende
stroming.[42] Die toenemende sedebederf, “wat saam met ‘n
bioskoopbeskawing tot ons oorgewaai het”[43] laat meer as een skrywer ‘n
preektoon aanslaan of traktaatjies in verhaalvorm skryf.

Die kunstenaar wat ons ‘n didaktiese roman in goeie sin kan gee
ontbreek nog. Carel Scharten sê tereg: “Het (is) ongetwijfeld mógelijk,
dat … een strekking, mits tot een bezielenden hartstocht gegroeid, een
gróót talent tot de hoogste en tevens voor ieder verstaanbare kunst
opvoert….”[44] By ons het die didaktiese stroming op die gebied van
die roman nie veel meer opgelewer as soetsappige vermanings nie, wat
heeltemal los en uit die verband staan, of anders verhale, opsetlik só
saamgestel, dat die strekking die _enige_ doel is. Langenhoven, wat
aanvanklik sy lewenswysheid op betogende wyse meegedeel het, begin dit
nou in verhaalvorm te verwerk en by hom is daar seker kans, dat die
strekking tot besielende hartstog sal vergroei en mettertyd ‘n
opbloeiing van gemeenskapskuns bring. Hy en ander skrywers teken die
kultuurverbastering op satieries-humoristiese wyse, terwyl die
mentaliteit van die arme blanke en sy agteruitgang in die stede
realisties geskets is deur J. van Bruggen en Lub.

Die romanties aangelegde skrywers volg die voetspoor van historisie soos
Preller en J.H. Malan en verheerlik die nasionale verlede. Die
Voortrekkerperiode veral word met liefde bestudeer, maar ook die
Anglo-Boere-oorlog lewer stof vir ‘n paar romans en talryke sketse. J.H.
Malan en De Waal gaan terug na die vroegste tydperk van die Kaapse
geskiedenis, terwyl ook resente gebeurtenisse, soos die opstand van 1914
behandel word. Die invloed van Van Lennep is duidelik merkbaar by
sommige skrywers. Dikwels moet die historiese agtergrond hoofsaaklik
dien om ‘n hele reeks awonture meer waarskynlik te maak. Die digterlike
gees, wat die historiese feite moet interpreteer, en deurdring tot die
innerlikste kern van ‘n tydperk, sonder versmoor te raak onder
noukeurige argeologiese gegewens is alleen af en toe aanwesig. Daarom is
die resultaat meestal nie veel meer dan “‘n gekleurde historieprent”
nie.

‘n Aaneenryging van kakelbonte awonture, wat die nuuskierigheid prikkel
deur al die konwensionele kunsies van ‘n vernuftige intriege vind nog
groot byval, selfs by die ontwikkelde klasse. Dit is ‘n voorkeur, wat
deur die tallose minderwaardige Engelse ontspanningsromans aangekweek en
in stand gehou word.[45] As ‘n skrywer maar behendig die draadjies kan
trek van ‘n klompie houtpoppies, liefs met ‘n stukkie vierkleur om die
hoed, en hul ‘n paar ingewikkelde dansies laat uitvoer, waarby ‘n paar
“rooies”, of ‘n klomp Soeloes in die stof getrap word, dan vind hy
lesers genoeg! Op karakterontwikkeling kom dit minder aan as daar maar
genoeg aksie, beweging en verrassinge is.

Jan Celliers het die oorsake van die toestand as volg geformuleer: “Hoe
kan verwag word dat ‘n jong kultuur, wat, so te sê, gister eers ontwaak
het, onder ‘n jong volk, wat van die begin af ‘n harde stryd om sy
bestaan te stry gehad het teen ‘n hardhandige natuur, teen
honderd-duisende barbare, teen ‘n vreemde oorheerser van buite, sou
ooreenkom met die van ouer lande? Hoe kan verwag word dat ons vir ons
besonder sou verdiep het in ‘n studie van die mens en sy omgewing vir
filosofiese of vir kunsdoeleindes? Ons het die mens en die natuur
bestudeer met die oog op die praktiese vrae van die dag, wat gou en goed
opgelos moes word, waar ons bestaan van afgehang het. En dié stryd hou
nog altyd aan…. Ons bloed is nog aldag te veel in beweging, jaag ons
aan, ons het te veel te doen, ons moet gou klaar wees, het nie tyd om
veel te droom of te peuter nie…. Om een en ander rede is ons romans
nog veel meer op handelinge en vermenigvuldiging van gebeurtenisse
aangelê as op karakterstudie van ‘n persoon of versameling van persone.
Dis vir ons onmoontlik om soiets doodkalm te behartig en ons grote stryd
te vergeet; onwillekeurig straal die stryd, en alles in verband daarmee,
in ons werk deur–romans, toneel, alles.”[46] Dat die opvatting van ‘n
goeie roman, soos deur Jan Celliers in dieselfde voorlesing uiteengeset
nog lang nie algemeen is nie, blyk uit ‘n pleidooi in _Die Huisgenoot_
(Okt. 1919), waarin ongetwyfeld die gevoelens geuit word van “die grote
gros van fatsoenlike mense, wat…. ‘n pittige, boeiende verhaal belaai
met “kunsies”, verkies bo ‘n sielkundige studie van mens en natuur.”[47]
En dit sal seker nog lank duur voor al die “fatsoenlike mense” tot
juister kunsbegrippe kan opgevoed word en leer insien, dat Hollanders,
wat iets van letterkunde afweet al lank al nie meer op Van Lennep “roem
as ‘n egte en groot romanskrywer” nie.

In die laaste tyd is daar egter ‘n reaksie gekom op die awontuurlike
rigting. J. van Bruggen, Léon Maré, Kruger, Van Reenen en ander verdiep
hul in karakterstudie en ook in talryke tydskrifverhale word die mens
meer en meer hoofsaak. Deur die genoemde skrywers is realistiese werk
van goeie gehalte gelewer. Oor die algemeen moet egter geseg word, dat
ofskoon ons goeie vertellers het, wat die kuns van aanskoulike
voorstelling verstaan, daar nog uiters selde ‘n karakter geskep is, wat
deur plastiese uitbeelding en fyn, menskundige aanvoeling ‘n blywende
indruk maak. Daar is meer as een skrywer met ‘n raak opmerkingsgawe,
maar ons voel telkens asof die dinge meer deur ‘n soort
projeksie-apparaat bekyk word, as deur die oog van ‘n kunstenaar. Wat
Van Deyssel “de oppermacht der intuïtie” noem, ontbreek nog.

“The depiction of the external, objective, carnal, precedes in every
form of expression of which we can have records, the consideration of
the internal, the subjective, the spiritual. We go from shapes, and
forms, and bulk, and externals, to the presentation of the life
within.”[48]

Daar is al genoeg aanduidings dat by ons die ontwikkeling dieselfde weg
sal volg. En Stoddard toon aan dat dit ook op ander terrein die geval
was. So het die skilders eers die Madonna met ‘n oureool geskilder;
later pas “illumined and glorified by a light from within.”

Verskillende skrywers het op gelukkige wyse die inboorling geteken en
ook hier is die strewe merkbaar om van die skildering van uiterlike
eienaardighede oor te gaan tot die uitbeelding van dieper menslikheid.
En naas die jagstories met hul bonte awonturereeks staan Sangiro se
_Sketse_, waarin hy probeer “om die diere se gewaarwordinge uit hulle
uiterlike beweginge te verstaan.”[49]

Die groot behoefte aan leesstof in die moedertaal het meer as een
skrywer, veral in die begin, uit pure vaderlandsliefde na die pen laat
gryp. “Ons het ‘n volk om te behou, ons het ‘n nasie om op te voed, ons
kan nie wag nie!”[50] was die wagwoord. In baie voorredes kan mens dan
ook sien, dat die enigste doel van die skrywer was om die leeslus aan te
moedig. So verklaar De Waal van sy _Stompies_, dat hulle “van geen
besonder gehalte op letterkundig gebied (is) nie”, “die enigste doel van
die skrywer is om te help voorsien aan (lees _in_) ‘n nasionale
behoefte”.[51] “Ons kan nie ons volk laat agterbly nie”, sê Langenhoven
by die verskyning van _Stukkies en Brokkies_ (1911) en selfs in 1918
heet dit nog: “Die hele boek is maar ‘n noodshulpie”. Ook D.P. du Toit
reken homself maar onder die “handlangers en knoeiers, wat somar
roustene aandra vir die binnemure”.[52] Onder sulke omstandighede hoef
die groot gebrek aan tegniek, waarop in die volgende hoofstukke
herhaaldelik sal gewys word, geen verbasing te wek nie.

Vandag is die toestand só verander, dat ons met die volste reg van alle
aspirant-kunstenaars kan eis, dat hulle goed georiënteer is in die
wêreldletterkunde, dat hul ten minste ‘n begrip het van die algemeen
erkende tegniese reëls, voordat hulle aan skrywe gaan. Ons kan ook met
reg verwag, dat hulle geen uitgediende, outydse modelle navolg nie, dat
hulle steeds in voeling bly met die literêre vooruitgang in ander lande.
Maar aan die eise het nog net enkele voldoen en daarom het ons
letterkunde allesbehalwe ‘n moderne cachet.

Op taalgebied heers daar by die meeste skrywers groot onsekerheid. Daar
is nog ‘n soekery, ‘n rondvallery om die juiste vorm te kry, wat
natuurlik maklik verklaarbaar is, by ‘n geslag wat gister eers geleer
het om sy eie taal te skryf. By meer as een is die taal nog stroef en
onbuigsaam, wanluidend en sonder ritme. Ander weer, soos Preller, wat
goed op die hoogte van die moderne stylkuns is, skryf al in 1906 ‘n
gekultiveerde taal, klankvol wegdeinend op bevallige ritme en telkens
verrassend deur oorspronklike beeldspraak, ontleen aan Afrikaanse volk
en bodem.[53] Uit tallose voorbeelde in die volgende hoofstukke sal blyk
hoe gevaarlik diep die vreemde parasiete al deur die bas van die
taalboom geknaag het, en hoeveel speurende sorg daar sal nodig wees om
hulle uit te vroetel.

By enkele skrywers is daar ‘n welbewuste strewe na mooiheid van klank en
frisheid van segging, by die meeste egter ‘n gedagtelose naskrywery van
geykte Hoog-Hollandse beeldspraak. Gelukkig is daar ook al prosa
geskryf, wat bewys, dat Afrikaans in smydigheid, in seggingskrag en
klank alleen ‘n kunstenaar nodig het om tot sy reg te kom. Wanneer ons
let op die stroom middelmatige verse, dan blyk dit hoe nuttig Jacob Geel
se uitspraak ook vir ons kan wees: _”Laat ons het Proza bewerken: de
echte Poëzie zelve zal er bij winnen”_.

§ 8. Krietiese Standpunt.

In die volgende hoofstukke word ‘n poging gedoen om die letterkundige
waarde van ons vernaamste prosawerk te bepaal. Wie bekend is met die
toestande in ons land sal toestem, dat by die estetiese kritiek ‘n
verwysing na die kultuur-historiese waarde van die besproke boeke
noodsaaklik is. In enkele gevalle word dit afsonderlik gedoen, maar hier
kan met nadruk daarop gewys word, dat die meeste behandelde werke, wat
ook al hul gebreke mag wees, en hoe primitief hul ook dikwels mag skyn
vir iemand, wat op die hoogte van die moderne Europese lettere is, _tog
almal, byna sonder uitsondering, voortreflike dienste in ons taal- en
kultuurstryd bewys het_. Daarom pas dit ons om ‘n eresaluut te bring aan
al die voortrekkerskrywers, wat ons volk van ‘n geestelike hongerdood
gered ‘t, deur wie se liefdevolle ywer ons nie langer as doofstomme
bywoners in ons eie land hoef te sit en swyg nie. ‘n Eresaluut, nie
alleen aan die begaafde artieste nie, maar ook aan die, wat in alle
eenvoudigheid houtkappers en waterdraers was, toe die meeste nog stil
gesit ‘t, of niks anders as spot oor had vir ‘n beweging, wat ‘n einde
aan ons lang periode van geestelike knegskap gemaak het.

Die gevoel van piëteit hoef egter ons krietiese vermoë nie te verlam,
mag ons nie belet om sonder doekies omdraai ‘n estetiese oordeel uit te
spreek nie. Dit sou ‘n verkragting van ons gewete wees en ‘n fatale
uitwerking hê op die verdere ontwikkeling van ons jong letterkunde. Nou
dat die taalstryd feitlik afgeloop is, word dit tyd om vas te stel, wat
ons tot dusverre bereik het; om te waardeer wat skoon is, om te laak wat
gebrekkig is. Tyd ook, om die voortbrengsele van ons kuns te meet aan
die meesterstukke van die buiteland. Want ons wil vorentoe beur! Ons wil
Suid-Afrika “hoog opstooten midden in de vaart der volken”. Ons wil nie
‘n pieperig-bleek kasplantjie hê nie, wat alleen ‘n sukkelbestaan kan
voortsleep in ‘n vaderlandse broei-atmosfeer. Dit moet ‘n _kan-nie-dood_
wees, wat ook die kritiek van ons Dietse stamgenote nie kan ontwortel
nie, in vaderlandse bodem geplant, maar tog bestand teen alle wind en
weer.

Op dié gedagte is ook die krietiese beskouing in die volgende hoofstukke
gebaseer. Wie dit daarmee nie eens is nie, sal op meer as een skynbaar
onbillike oordeel stuit. Maar laat diegene bedenk, dat ons op kuns-, net
so min as op ander gebied ‘n laer kan trek en met doringtakke inmenging
van buite afweer. Op die gevaar van isolasie is reeds in ‘n vorige
paragraaf gewys. As ons digters reeds so ‘n hoë peil bereik het, dat
selfs Europese fynproewers hulle werk kan waardeer, dan hoef ons
prosaïste ook nie met minder tevrede te wees nie. Jong Suid-Afrika
streef ook op kunsgebied vooruit en die kunstenaar wat laag mik, sal in
‘n paar tiental jare skoon vergeet wees. Daarom moet ook ons prosakuns
op ‘n kosmopolietiese plan kom te staan, wat geensins denasionalisering
hoef te beteken nie. In die stadium van ontwikkeling, waarin ons tans
verkeer, kan ‘n gemotiveerde kritiek, waarin breedvoerig op prinsipiële
kwessies ingegaan word nuttig wees en daarna is ook in hierdie werk
gestreef. As dit lei tot ‘n ruimer belangstelling in ons prosakuns, tot
meer vergelykende studie en ‘n juister insig in letterkundige
verskynsele, dan is die doel van die skrywer bereik.

Op die ooreenkoms tussen ons toestand en die Vlaamse is al dikwels
gewys en dit geld ook van die kritiek. August Vermeylen sê: “Elke
flamingant achtte het zijn plicht zijne algemeene gedachten in de
godentaal weg te brullen of uit te kwinkeleeren. In het begin onzer
herwording, na het jaar 1830, was de literatuur het voornaamste wapen
der Vlaamschgezindheid geweest, en lang nog meende ieder taalstrijder
dat wapen te moeten hanteeren. Het vergde dan ook meer dan gewonen takt
van den kritikus, om zich niet schuldig te maken aan landverraad, als
hij den rijmelenden taalbroeder wat minder “puik” moest verklaren.”[54]

§ 9. Beperking van Onderwerp.–Indeling.

Die volgende bespreking is beperk tot oorspronklike prosa, wat meer of
min tot die terrein van die skone lettere behoort. Buiten beskouing bly
dus _(a)_ suiwer wetenskaplike prosa, waaronder ‘n groot aantal
Afrikaanse dissertasies en die _Populêr-Wetenskaplike Serie_ van die
Nasionale Pers; _(b)_ godsdienstige prosa, soos die kinderbybel van Ds.
Conradie en ‘n hele paar preekbundels; _(c)_ vertalings en omwerkings;
_(d)_ kinderboeke. Daar word ‘n poging gedoen om te bepaal in hoeverre
ons historiese prosa, deur versorging van styl en ander artistieke
kenmerke tot die gebied van die kuns behoort.

In § 7 is ‘n algemene karakteristiek van ons prosa gegee. Op enkele
strominge word daar gewys, maar tewens blyk ook hoe alles by ons nog in
wording is. Veral by die romans en verhale is dit moeilik om tot ‘n
bevredigende indeling te geraak. Waar daar nog net vae aanduidings is
van enkele hoofgroepe, en die meeste skrywers nog in verskillende
rigtings rondsoek, word dit onmoontlik en ongewens om nou al kampe af te
baken. Om dié rede is die voorkeur gegee aan ‘n kronologiese indeling,
wat onder ander die voordeel bied, dat die meeste skrywers as ‘n eenheid
kan bespreek word en, waar nodig, die ontwikkelingsgang in hul werk kan
aangedui word. Op die manier is die verbrokkeling van ‘n skrywer se werk
soveel moontlik beperk. G.R. von Wielligh word in ‘n afsonderlike
hoofstuk bespreek, omdat hy in baie opsigte _”‘n Laaste stem uit die
Genootskap van Regte Afrikaners”_ is. Vir die ander hoofstukke is geen
opheldering nodig nie. Op enkele uitsonderings na word hier die
Akademie-spelling gevolg.

VOETNOTAS:

[1] Vgl. _Die Huisgenoot_, Jan. 1922: _Eerste Skrywers en Eerste
Geskrifte in Afrikaans_.

[2] Die vyftigste verjaardag van die _Genootskap_ in 1925 mag seker nie
ongemerk verbygaan nie.

[3] Dr. L. van Niekerk: _De Eerste Afr. Taalbeweging_ (1916); _Ds. S.J.
du Toit in Weg en Werk_, deur Dr. J.D. du Toit (1917); _Eerste skrywers_
deur G.R. von Wielligh (1918); S.J. du Toit, _Geskidenis van die Afr.
Taalbeweging_ (1880).

[4] Vgl. _Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk_, p. 203.

[5] Preller: _Inleiding tot Die Vlakte_, 5de druk, p. 7.

[6] Gesiteer deur Dr. J.D. du Toit: _Ds. S.J. du Toit_, p. 210.

[7] Vgl. Dr. S.P.E. Boshoff: _Volk en Taal van Suid-Afrika_, p. 62.

[8] J.H.H. de Waal in _Die Burger_, 12 en 13 Aug. 1921.

[9] Dr. T.B. Muller: _Die Geloofsbelijdenis van ‘n Nasionalis_. (1913),
p. 8.

[10] Preller: _Inleiding tot Die Vlakte_, 5de druk, p. 12.

[11] Die taalstryd het Dr. E.C. Pienaar beskryf in: _Taal en Poësie van
die Twede Afr. Taalbeweging_. Vgl. daarby egter Hoofstuk III.

[12] Dr. W.J. Leyds: _Het Insluiten van de Boeren-Republieken_ I, p. XI.

[13] Vgl. L. v. Niekerk: _De Eerste Afr. Taalbeweging^1_, p. 64.

[14] _De Volkstem_, 18 Aug. 1906.

[15] Ek kursiveer.

[16] _Die Huisgenoot_, Julie 1919.–Prof. J.J. Smith. Vgl. ook Hoofstuk
III, § 3.

[17] _Neerlandia_, Sept. 1913.

[18] Vermeylen: _Verz. Opstellen_.

[19] Carel Scharten: _De Roeping der Kunst_, p. 5.

[20] Vgl. my artiekel: _Kuns regeringsaak,^2 Die Brandwag_, Jan. 1921.

[21] _Taal en Poësie^2_ ens. p. 110-117.

[22] _Die Banier_, Aug. 1921. Dr. Steyn se verdienstelike artiekels oor
_Die Dietse Bond_ het seker reg op meer algemene belangstelling en
behoort herdruk te word.

[23] _Die Huisgenoot_, Nov. 1921.

[24] Dr. E.C. Pienaar: _Taal en Poësie^2_ ens., p. 47.

[25] _Die Brandwag_, Junie 1917.

[26] id. 15 Aug. 1911, _Skrywers en Gekrifte_, deur N.N. (Jan Celliers).

[27] _Die Banier_, Okt. 1921. _Het Geleerde Jong Suid-Afrika ‘n
Program?_

[28] _Akademie-Jaarboek_ I, p. 94.

[29] Dr. H.J. Steyn: _Die Banier_, Des. 1921.

[30] _Akademie-Jaarboek_ V, p. 89.

[31] Id. I, p. 83. _Die Afrikaanse Volksziel_.

[32] _Het Calvinisme en de Kunst_.

[33] _Die Huisgenoot_. Feb. 1919.

[34] Vgl. _Jaarboek_ I, p. 49 vlg. en p. 14. Vgl. ook Dr. G. Besselaar:
_Z.A. in de Letterkunde_, p. 95.

[35] In die pers is aangekondig, dat D.J. Smal, die bekende yweraar vir
gelyke taalregte na die buiteland gaan vir tegniese toneelopleiding.

[36] _Akademie-Jaarboek_ I, p. 92.

[37] _Jaarboek_ III, p. 54 vlg.

[38] _Jaarboek_, p. 67. Vgl. ook sy oordeel oor Beets in V, p. 95 vlg.

[39] V, p. 103.

[40] III, p. 68.

[41] _Die Banier_, Okt. 1921 na aanleiding van die tydskrif: _Het
Getij_.

[42] Vgl. § 5.

[43] Dr. W.M.R. Malherbe in ‘n voorwoord by _Die Veldblommetjie_.

[44] _De Roeping der Kunst_, p. 399.

[45] Vgl. Jan Celliers: _Die Roman. Die Huisgenoot_, Aug. 1919.

[46] t.a.p.

[47] Die skrywer is J.W. van Kaapstad.

[48] Stoddard: _The Evolution of the English Novel_, Chapter I.

[49] Voorwoord.

[50] Jan Celliers in _Die Volkstem_, 19 Junie 1907.

[51] Voorrede 2de druk.

[52] Voorrede: _Sy Pa se Skuld_.

[53] Vgl. b.v. sy Persoonlike appresiasie van _Joh. van Wyk, De
Volkstem_, 18 Aug. 1906.

[54] _Verz. Opstellen_ II, p. 149

Bron:

Title: Die prosa van die twede Afrikaanse beweging

Author: Pieter Cornelis Schoonees

Release Date: April 18, 2006 [EBook #18203]

Language: Afrikaans

Character set encoding: ISO-8859-1

*** START OF THIS PROJECT GUTENBERG EBOOK DIE PROSA VAN DIE TWEDE ***

Produced by Christine D., Michael Ciesielski and the Online
Distributed Proofreading Team at http://www.pgdp.net

Foto: Pixabay


 

Leave a Reply